Monday, January 10, 2011

Avontuurlike 2011

Mag 2011 vir elkeen wat hierdie blog lees vol nuwe avonture wees.

2010 het behoorlik op 'n dolle vaart afgesluit, maar dinge behoort nou te stabiliseer as al die skole en sondagskole eers begin het en almal weer terug is in die normale roetienes. Dit beteken ons kan weer aandag gee and Kontreistories. Ons is besig om deur al die verhale te sif en ek hoop om die eerste bundel met 20 kortverhale eersdaags aan die skrywers te versend vir proeflees. Moet intussen nie ophou skryf nie.

So, laat ek aan die werk spring!

Thursday, October 14, 2010

Nuwe Temas

Ons is nogal opgewonde oor hierdie projek want ons epos inboks is lewendig met stories wat ingestuur word. Dit gaan ernstige leeswerk kos om deur al hierdie storie te gaan, maar die klompie wat ek al so vinnig na gekyk het beloof om lekker lees te wees.

Twee nuwe temas wat ons eersdaags meer oor sal sĂȘ is:

Van Heinde en Verre
Konsistoriestories

Daar woon soveel Afrikaners in die buitelande as in Suid Afrika en ek is seker hulle het goue juwele. Die Konsistorie kan net so 'n ernstige plek as 'n snaakse plek wees en ook hierdie juwele moet opgeteken word...

Monday, October 11, 2010

Uit Toeka se Dae - Vol 1

Wat kan nou interessanter wees as om van ons Oumas en Oupas te hoor oor die "goeie ou dae", die "anders as vandag" tye, lekker, swaar, snaaks of hartseer. 

Skrywers en storievertellers, hier is 'n wonderlike geleentheid om jou verhaal in die boek "Kontreistories - Uit Toeka se Dae" die lig te laat sien. Sit die bal aan die rol en stuur julle stories voor 28 Februarie 2011.

Fotograwe kan gerus laat waai en epos vir ons jou foto wat die beste by die titel pas om op die buiteblad te plaas. Die 3 beste foto's word gebruik en erkenning aan die fotograwe gegee.

Reismoles - Vol 1

Wat 'n lekker tema met onbeperkte moontlikhede en waar die waarheid dalk snaakser kan wees as fiksie!

Skrywers en storievertellers, hier is 'n wonderlike geleentheid om jou verhaal in die boek "Kontreistories - Reismoles" die lig te laat sien. Sit die bal aan die rol en stuur julle stories voor 30 Januarie 2011.

Fotograwe kan gerus laat waai en epos vir ons jou foto wat die beste by die titel pas om op die buiteblad te plaas. Die 3 beste foto's word gebruik en erkenning aan die fotograwe gegee.

Slaaptydstories - Vol 1

Hier is jou kans om daardie meesterstuk wat jy uitgedink het om jou kinders of kleinkinders droomland toe te stuur, vir die nageslag te verewig.

Skrywers en storievertellers, hierdie is 'n wonderlike geleentheid om jou verhaal in die boek "Kontreistories - Slaaptydstories" die lig te laat sien. Sit die bal aan die rol en epos julle stories voor 30 November 2010.

Fotograwe kan gerus laat waai en epos vir ons jou foto wat die beste by die titel pas om op die buiteblad te plaas. Die 3 beste foto's word gebruik en erkenning aan die fotograwe gegee.

Wednesday, October 6, 2010

Skryf 'n Storie

Onbekende skrywers, gepubliseerde skrywers en selfs wanneer iemand namens jou skryf - enigeen is welkom om stories in te stuur om ingesluit te word in "Kontreistories"!

Ons almal het al beleef hoe iemand 'n storie vertel en wanneer die storie klaar vertel is merk een van die ouens wat geluister het op: "Ons moes dit op band opgeneem het. Ek wonder hoe kan ons hierdie storie vir die nageslag bewaar?"

Wel, Kontreistories gaan probeer om hierdie kosbaarhede vir ons kinders en hulle kinders beskikbaar te stel en te bewaar.

Hou die blog dop vir die temas en plekke waarvoor stories gevra word sodat jy dit betyds kan stuur. In 'n neutedop is die proses soos volg:
  • Skryf 'n storie of gaan soek jou argiewe deur vir net die regte een.
  • Proeflees en skaaf so bietjie daaraan sodat dit so om en by 2 500 woorde is.
  • Voorsien in Microsoft Word en epos na Groep 7 Drukkers en Uitgewers voor die sluitingsdatum.
  • 'n Groep kundiges evalueer die stories gemeet aan die leuse en onthou, humor bly nog altyd 'n wenner.
  • Ongeveer 20 stories word gekies vir elke boek. 20 Verskillende outeurs! 
  • Elke boek behoort 150 tot 200 bladsye kosbaarhede te bevat.
  • Indien jou storie geplaas word ontvang jy 5 gratis boeke.
  • Ons stuur ook 5 gratis boeke aan elke fotograaf wie se foto op die buiteblad gebruik word.
  • In plaas daarvan om die tantieme deur 20 te deel en aan die 20 skrywers uit te keer, gaan dit aangewend word om Afrikaanse literatuur en opleidingsmateriaal aan kinderhuise beskikbaar te maak.